Pretoria se geliefde seunskool Affies het verlede maand twee besonderse mylpale in egte Affie-gees gevier, berig Leonie Bezuidenhout op Maroela Media se webwerf.  Die Afrikaanse Hoër Seunskool vier vanjaar sy 98ste bestaansjaar, en het ook die klas van 1948 se 70ste klasreünie aangebied.

Dirk Taljaard, skakelbeampte van die skool, het gesê die skool is deur die matriekgroep van 1948 genader om ʼn datum vir ʼn reünie vas te stel. “Ons het gedink dit is ʼn goeie idee om die reünie saam met die skool se verjaarsdagviering te hou, omdat dit so uitsonderlik is dat ʼn matriekgroep ʼn 70ste reünie hou.”

Dié matriekgroep bestaan uit 12 oorblywende klasmaats, van wie ses mediese dokters is. Hierdie groep is ook besonders omdat hulle in Graad 9 was toe die skool sy kwarteeufeesviering gehad het, vertel Taljaard.  “Hulle het dus die kwart- en halfeeufeeste bygewoon en nou hoop ons hulle kan by wees as ons oor twee jaar die 100ste bestaansjaar in Pretoria vier.”

Op die dag van die viering is ‘n spesiale saalbyeenkoms en ‘n geskiedenis-oorsig aangebied, met ‘n nostalgiese toespraak deur Dr Rudolph Bigalke, die organiseerder van die reünie en ’n afgetrede beroepsveearts. Hy het gereflekteer daarop dat Affies destyds toe hy op skool was ‘n goeie skool was, maar nou selfs beter is, vertel Taljaard. “Dit was vir almal, oud en jonk, ’n besonder verrykende ervaring – so inspirerend om terug te kyk oor die geskiedenis en te sien hoe Affies oor die jare net van krag tot krag gegaan het.”

Affies, vir diégene wat nie weet nie, was oorspronklik deel van die gemengde Afrikaanse Hoërskool, wat in 1920 gestig is. In 1930 was daar nie meer plek vir al die kinders in die skoolgebou in Lynnwoodweg nie, en so is besluit om die skool in twee te deel – een vir seuns en een vir meisies. So is Affies en die Afrikaanse Hoër Meisieskool gebore.

In ’n nostalgiese terugblik na die dae van een skool, is daar ten tyde van Affies se feesverrigtinge ’n ou foto herskep wat in 1928 by die eerste unievlaghysing by dié skool geneem is. Leerders van die Afrikaanse Hoër Meisieskool het by die seuns aangesluit vir die neem van die foto.

Die storie het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.