April was internasionale outismemaand, waartydens verskeie outisme-organisasies ’n jaarlikse Verf Dit Blou-veldtog hou word. So skryf Melt Olcker, lid van die uitvoerende komitee van Autism South Africa en iemand wat self op die outisme-spektrum is, op Maroela Media se webwerf.

Die doel van Verf dit Blou is tweeledig: eerstens om bewustheid van outisme by die publiek te bevorder, en tweedens om geld in te samel vir die finansiering van hierdie organisasies. Mense is in die algemeen onkundig oor outisme, en baie se kennis strek maar so ver soos dit wat hulle destyds in die rolprent Rain Man gesien het – wat ook nie juis ’n verteenwoordigende uitbeelding was nie. Om meer oor hierdie toestand te weet, laai gerus die brosjure “Outisme: Praktiese Aspekte” gratis af by www.aut2know.co.za

In die brosjure word drie hooftipes van Outisme-spektrum-versteuring (OSV) beskryf:
1. Asperger-sindroom
OSV veroorsaak nie altyd verstandelike gestremdheid nie. Mense met OSV kan oor normale of bogemiddelde verstandelike vermoëns beskik, met byna normale spraakontwikkeling. Daar word gesê dat hierdie mense Asperger-sindroom het. Ongeveer 25 persent van mense met OSV het Asperger-sindroom.

2. Klassieke/Kanner-outisme
Wanneer OSV met verstandelike gestremdheid en/of leerprobleme gepaardgaan, word gesê dat hierdie mense “klassieke” of “Kanner”-outisme het. Altesaam 75 persent van mense met OSV het verstandelike gestremdheid of leerprobleme.

3. Savant outisme
Ongeveer vyf persent van mense met OSV het die “savant”-vorm van outisme. Hierdie subgroep kan beskryf word as individue wat oor buitengewone, byna bomenslike vermoëns in een gebied het, tesame met ernstige gebreke in ander. So iemand sou byvoorbeeld sonder dat hy ooit leer klavier speel het, ʼn volledige klavierstuk speel nadat hy slegs een keer daarna geluister het, maar terselfdertyd nie eenvoudige daaglikse take kan uitvoer nie.

Outisme word in die algemeen uitgeken aan ʼn drietal gebreke: in die ontwikkeling van taal en kommunikasie, in sosiale interaksie en gedrag, en verbeelding. Buiten die drietal kenmerke ervaar hierdie mense ook verskerpte sensoriese persepsie.

Die toestand is in 1943 tegelykertyd vir die eerste keer omskryf deur twee navorsers aan verskillende kante van die Atlantiese Oseaan. In die VSA het Dr Leo Kanner agtergekom dat van die kinders in sy hospitaal aan ʼn afwyking ly wat in die literatuur van die tyd onbekend was. In Duitsland het Dr Hans Asperger ʼn studie gedoen onder kinders en vertoë gerig aan die Nazi-regering dat hierdie kinders nie geklassifiseer moet word as onwaardig om te lewe nie. Asperger het die aanbeveling gemaak dat hierdie kinders opgelei en aangewend kon word om die Britse en Amerikaanse militêre kodes te ontsyfer. Die Nazi’s het nie ag geslaan op hierdie aanbeveling nie. Nie lank daarna nie, gebeur dit toe dat Dr Alan Turing, ʼn volwasse persoon met Asperger-tipe outisme, die Nazi’s se Enigma-kodes ontsyfer het, nadat hy die eerste rekenaar, bekend as die Turing-masjien, gebou het.

Outisme was vir ʼn lang tyd onbekend en beskou as ʼn rare toestand. Aanvanklik het dokters geglo dat dit veroorsaak word deur koue ma’s wat nie genoeg liefdevolle aandag aan hulle kinders gee nie, hoewel dié nare idee deur latere navorsing weerlê is. Dit was ook eers in 1995 dat Asperger-sindroom erken is as ʼn tipe versteuring. Onlangs, ná lang gesprekvoering onder kenners, is besluit om die drie hooftipes van outisme saam te klassifiseer as OSV.

Die algemene publiek het eers in die Tagtigerjare bewus geword van outisme, en ook maar deur die rolprent Rain Man met Dustin Hoffman en Tom Cruise. Die rolprent het egter ʼn baie skewe beeld van outisme geskep wat nou eers baie stadig aan die verander is. Dit word egter nie meer beskou as ʼn baie rare toestand nie en daar word gereken een uit 68 mense het die een of ander vorm van outisme. ʼn Meer positiewe beeld word ook deur die vermaakwêreld uitgedra met gewilde karakters in TV-reekse soos “The Big Bang Theory” (behalwe Penny wat “normaal” is), die hoofkarakters in “Sherlock” en “Monk”, Dr Gregory House in “House MD”, Spock in “Star Trek” en Christian Wolff in die rolprent “The Accountant”.

Ongelukkig is daar ook skelms wat hulself as helers voordoen en geld maak uit mense se onkunde met rate wat kwansuis outisme sal genees, soos die uiters gevaarlike onsin-storie dat ’n bleikmiddel-enema ’n outistiese kind kan genees. Daar is ook predikers wat so ver gaan om te beweer dat outisme deur duiwelsbesetenheid veroorsaak word.
Veral kinders met Asperger-sindroom word dikwels afgeknou, wat ook langtermyn sielkundige probleme soos post-traumatiese stresversteuring kan veroorsaak.

En tog, al wat ons in die outisme-gemeenskap aan die publiek vra, is: aanvaar ons en wees geduldig met ons. Ons kan ʼn baie positiewe bydrae lewer, net soos Alan Turing gedoen het.

Lees gerus meer in S Silberman se boek “Neurotribes; The Legacy of Autism and How to Think Smarter About People who Think Differently” wat in 2015 deur Avery uitgegee is, en op Autism South Africa se webwerf: www.aut2know.co.za

Hierdie rubriek het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.