Dis een van die groot vreugdes vir die Atterbury Trust beurspaneel om te kan waarneem, hoe ‘n skugter matrikulant oor ‘n paar jaar kan transformeer in ‘n bekwame professionele jongmens wat met vertroue sy of haar plek in die arbeidsmark kan vol staan. Atterbury probeer met elke student soveel as moontlik bystand gee vir agterna, en ons netwerke gebruik om te help dat ons beurshouers werkgeleenthede kry. Gewoonlik skei ons paaie merendeels na hulle afstudeer, omdat ons nie soos baie ander beursprogramme slegs studente befonds vir graadkursusse wat binne ons maatskappy se veld val, sodat hulle hul beursverpligtinge intern kom terugwerk nie.

Maar net partykeer is daar ‘n afgestudeerde beursstudent en ‘n vakante pos by een van ons noue vennote wat perfekte pasmaats is, en dis ‘n groot voorreg om dan verwysings te kan doen, en ons verhouding met ‘n student te kan omskep na ‘n meer professionele een. So het reeds twee voormalige beurshouers by Parkdev SA aangesluit – Ulrich Paul twee jaar gelede en Donné Pistorius in 2017. Ons het met hulle gesels oor die aanpassing.

Hoe het dit gebeur dat julle by Parkdev aangesluit het? Vertel ons van julle werk?

Ulrich: Zahn het my gebel en vertel dat daar ‘n krediteureklerk-pos by Parkdev SA oop was. Ek het aansoek gedoen, en sommer op dieselfde dag dat ek vir die onderhoud was, het hulle laat weet die pos is myne! Dit was twee jaar gelede; en intussen het my rol verander… ek is nou ‘n finansiële spesialis wat werk met enige vorm van finansies; beleggings tot strukture, kontantvloeibeheer. Dit gaan uitstekend en ek geniet my werk ongelooflik baie, dis ‘n voorreg om by ervare kollegas te leer!

Donné: Verlede jaar tydens my eindeksamen het Leonie my laat weet dat Parkdev iemand nodig het. Sy het gehelp reël dat ek gaan vir ‘n onderhoud… sjoe, ek was op my senuwees, want dit was my heel eerste formele onderhoud! Maar hier is ek nou! Ek is ‘n krediteureklerk, so ek is verantwoordelik vir al die “admin” takies wat met krediteure te doen het. Ek leer nog hoe dinge werk, maar ek kom al mooi reg!

Hoe lank het julle ‘n Atterburybeurs gehad? Hoe voel dit om nou nie meer ‘n beurshouer te wees nie, maar ‘n kollega?

U: Ek het vir twee jaar ‘n Atterburybeurs gehad, maar ek het nooit kon dink dat dit my ook na ‘n werk sou lei nie nie. Om deel te wees van die groter Atterburyfamilie is iets uniek wat jy nie regtig kan verduidelik nie. Die betrokkenheid en ondersteuning wat die Atterbury Trust van verskillende mense in die sakewêreld ontvang, is werklik merkwaardig.

D: Ek was ‘n beurshouer vir een jaar. Vir my voel dit nog steeds presies dieselfde omdat die Atterburyfamilie so ‘n hegte band vorm met al hulle beurshouers. Die gevoel van “jy behoort” is blywend – dis so ‘n aangename gevoel.

Werk julle twee nou saam? Het julle mekaar voor die tyd geken?

U: Ons werk direk saam, maar het mekaar nie geken voor Donné hier begin het nie. Ek het by Tukkies geswot en sy by Potch en ons paaie het nie gekruis nie.

Waar hoop julle om oor vyf jaar te wees?

U: Oor vyf jaar is ek klaar met my CFA akkreditasie, waarmee ek tans besig is. Ek hoop om teen dan baie meer betrokke te wees in direkte beleggings. Solank ek aanhou groei en geniet wat ek doen, bereik ek wat ek vir myself uiteengesit het.

D: Ek hoop ter harte dat ek binne die volgende vyf jaar nog ‘n graad kan verwerf. En ek wil vorder by die werk tot ‘n hoër posisie om as mens te kan groei tot die beste wat ek kan wees.

Nou dat julle in die arbeidsmark is, raak julle in effek self ‘n beursborg. As julle kon kies, hoe sou julle wou hê jul terugbetalings moet gebruik word?  

U: Ek het as Atterbury Truststudent gereeld saam met die Atterburyspan gaan kuier by Beyers Bytjies. Dit wat Atterbury vir daardie kinders en hulle omgewing beteken, is net wonderlik. Ek sou baie bly wees as my terugbetaling op hulle bestee kon word, maar ek weet ook dat ‘n graad in ‘n gewillige persoon se hande dieselfde effek op sy omgewing kan hê.

D: Ek sou nog steeds kies om iemand se studies te borg. Dit gee iemand anders daar buite die kans om ook hulle droom na te streef.

Wat is jul boodskap vir potensiele beurs-skenkers… hoekom is dit so belangrik dat mense die beursfonds ondersteun?

U: As jy net kyk wat die Atterbury Trust doen vir soveel verskillende mense, met die beursprogram, Beyers Bytjies, Triomf Kliniek… lees net die nuusbrief en jy sal besef watter groot impak hulle maak. Wanneer ek oor ‘n paar jaar in die finansiële posisie is om te kan bydra, sal ek definitief aan die Atterbury Trust skenk.

D: Dade is soos ‘n waterdruppel wat in water val… dit het ‘n “ripple effect”. En dis presies wat die beurs aan die Atterburystudente doen: dit help hulle om ook eendag ‘n positiewe effek op iemand anders se lewe te kan hê. Die beursfonds is so belangrik om te ondersteun want dit help iemand om hulle drome uit te leef wanneer alles om hulle onmoontlik voel!