frances foto1. Wat is die mees bevredigende deel van jou werk?
Dat wanneer ek huistoe gaan ek weet dat ek ‘n verskil in hierdie kleuters en ouers of een van my personeel se lewe gemaak het.

2. Wat is die moeilikste deel van jou werk?
Om nie altyd in staat te wees om almal te help wat hulp of selfs net ondersteuning nodig het nie, al probeer ons.

3. Wie is Frances by die huis?
Ek is al 24 jaar met ‘n wonderlike man getroud, wat my in alles ondersteun en ook my grootste vriend is.  My twee seuns is op universiteit en my dogter is in graad 8.  As pastoorsvrou geniet ek dit baie om ook die gemeente te bedien.

4. Wat was die lekkerste dag by die werk in die jaar sover?
Vir my was die opening van die Triomf Kliniek die hoogtepunt sover hierdie jaar omdat dit verligting bring aan ‘n groot behoefte wat altyd daar sal wees in hierdie omgewing.

5. Daar moet baie hartseerstories wees. Vertel een?
Daar is regtig baie. As ek moet dink aan een wat hierdie kwartaal nogal baie aan my gevat het, is dit die geval van ‘n mamma wat in trane voor my staan omdat ons haar toestemming gevra het om haar twee dogtertjies te mag bad hier by die skool.  Hulle woon in ‘n kamer en mag nie baie badwater gebruik waar hulle woon nie.  Sy doen regtig haar bes om haar kindertjies mooi te versorg en ook te sorg dat hulle altyd kossies het.  Ons het met haar gereël dat ons sal help met die bad waar ons kan en ook skoon kleertjies vir hulle  aantrek, sodat hulle ook meer op hulle gemak met die ander maatjies kan speel. Dit het my net weer laat besef dat so baie dinge wat ek as vanselfsprekend aanvaar – soos badwater – vir baie gesinne in hierdie omgewing ‘n luukse is, wat hulle nie altyd het nie.

6. As jy iemand by die skool se droom kon waar maak, wat sou dit wees?
Ek wens ek kon Zeppy, wat al baie jare hier by ons werk en betrokke is, se droom werklikheid maak.  Sy het as ‘n meisie van 17 weggetrek uit haar ouerhuis en het haar ouers nooit weer gesien nie. Sy’s nou al 39 en het ‘n groot behoefte om haar ouers en ander familie weer te sien. Sy’t al baie navraag gedoen, maar geen sukses gehad nie.

7. Deel jou lekkerste vakansieherinnering
Ons familievakansie in die Kaap, voor al die kinders te groot geword het, om saam met ma en pa vakansie te gaan hou.

8. Watter gebeurtenis in die geskiedenis het ‘n blywende indruk op jou gemaak?
Die 9/11 terreuraanval wat in Amerika gebeur het.  Ek het besef dit maak nie saak hoe groot en sterk ‘n nasie dink hulle is nie, ons moet altyd naby die voete van ons Hemelse Vader bly, want die vyand sluimer en slaap nie.

9. Watter tegnologiese uitvinding wens jy wil in jou leeftyd realiteit word?
Motors wat nie petrol of diesel gebruik nie. Ek weet daar is al elektriese motors, maar die elektrisiteit is ook al so duur in ons land.

10. Voltooi die sin: Wat ek die meeste waardeer van die Atterbury Trust is…
Dat hulle mense is wat omgee en ‘n hart het vir mense in nood, asook vir die kleuters en personeel van Beyers Bytjies Kleuterskool.