1. Hoe werk jy saam met die Atterbury Trust?
Ek is die hoof van Pretoria Boys’ High se kunsdepartement, en ek is genader om te help met die skolekunsprojek wat Atterbury borg vir die biennale.

2. Wie is Debbie by die huis?
Tuis is ek stillerig, wel, meeste van die tyd… Ek woon saam met my 16-jarige seun Aaron; hy is ‘n filosoof, redenaar, aspirerende intellektueel en ‘n komediant soos min, so daar is nooit ‘n vervelige oomblik nie en ons is altyd diep in gesprek. Ek is mal oor my huis; dis waar ek planne maak, waar ek lugkastele bou, en waar ek dink aan alles wat nog gedoen moet word.

3. Waar het jy grootgeword en skoolgegaan?
Ek is in Pretoria gebore, toe ek ses was het ons gesin na Amerika verhuis en eers agt jaar later teruggekeer. My eerste hoërskooljaar was by Pretoria Girls High, maar toe skuif ek na die Pretoria School of Art, Ballet, Music and Drama waar ek hoërskool klaargemaak het. Ek woon sedertdien in Pretoria en is totaal verlief op hierdie stad – dis my valley!

4. Voltooi die sin: Ek weet ek is in my hart Afrikaans want…
…ek wil ook ‘n huisie by die see hê!

5. Hoe lyk jou droom Sondagmiddagete:
Ek moet bieg, ek is ‘n bietjie lui in die kombuis, maar daar is niks lekkerder as om aan te sit vir ‘n tradisionele Suid-Afrikaanse Sondagmiddagete nie… solank iemand anders dit kook!

6. Wat is jou gunsteling vakansie-herinnering?
Sjoe, ek was eeue laas op vakansie, maar as ek terugdink aan ‘n gunsteling, sien ek dadelik ‘n winternaweek in Dullstroom, ‘n vroegoggend-vuurtjie, en totale stilte terwyl ek met ‘n stomende koppie koffie kyk hoe die son oor ‘n mistige landskap opkom.

7. Noem drie bekendes, lewend of nie, wat jy graag sal wil nooi om ‘n lekker bord boerekos met jou te geniet? Hoekom hulle?
Wat ek die meeste geniet is stimulerende gesprek; ek is lief vir taal en mense wat slim is met woorde. My eerste gas sal Sir Patrick Stewart wees, Kaptein Jean-Luc Picard van die Star Trek: the Next Generation reeks – hy is ‘n Britse film, televisie en verhoogakteur en sy beheer oor die Engelse taal is iets om te bewonder. Tweede sal Gabriel Garcia Marquez wees, die Colombiaanse skrywer van een van my gunstelingboeke, 100 Years of Solitude, vir sy dromerige styl en sy behendigheid met woorde. En derde sal Steve Hofmeyr wees, want ek geniet mense met sterk opinies wat hulself goed kan uitdruk.

8. Watter tegnologiese uitvinding wens jy wil in jou leeftyd gebeur?
O, dis maklik – ‘n replikator-masjien soos in Star Trek; ‘n rekenaar wat op stemaanwysings reageer en enigiets maak waarvoor jy vra – van die perfekte Sondagmiddagete tot die perfekte paar skoene!

9. Watter historiese gebeurtenis het ‘n blywende indruk op jou gemaak?
Daar is baie, maar die eerste een wat opkom is ‘n dag toe die realiteit van die Suid-Afrika van daardie tyd na my deurgedring het. Ek dink dit was in my matriekjaar, so 1989 – ‘n bom het ontplof by die Sterland-filmteater en ek het op die radio daarvan gehoor. Dit was in daardie dae nog Radio 5, met Alex Jay in die middag, en reg na die nuus het hy ‘It’s the end of the world as we know it” deur REM gespeel. Ek het steeds die koerantknipsel en elke keer as ek die song hoor, dink ek aan daardie dag…

10. Terug by Atterbury. Hoe het die Atterbury Trust jou lewe die afgelope maand verryk?
Ek is self ook ‘n kunstenaar, so dis vir my wonderlik dat die trust met Cool Capital dit moontlik maak vir die kunsstudente aan so baie hoërskole om blootgestel te word aan kuns as beroep.