Hoe het jou paadjie met Atterbury s’n gekruis? Hoe werk Akademia en Atterbury saam?
Ons paadjie het so drie jaar gelede gekruis toe ek vir Louis van der Watt en Francois van Niekerk genooi het om hul stories by die Akademia Entrepreneurseminaar te kom vertel. Vandaar het die Atterbury Groep ingekoop in die Akademia Sakeplankompetisie as een van die hoofborge, en is daar nog ʼn opwindende nuwe projekte vir die toekoms in die pyplyn!

Wie is Chris by die huis? 
By die huis is ek die trotse pa van drie kinders, seuntjie van sewe, en dogtertjies van vyf en drie jaar oud. Ek is al nege jaar getroud met die meisie van my drome, en my beste vriendin. Ons woon in die platteland van Pretoria (Monumentpark), waar ons besig is met voortdurende opgradering aan ʼn ou huis wat ons restoureer. Verder is die natuur, kamp en buitelewe en jag groot stokperdjies!

Waar het jy grootgeword, skool en varsity toe gegaan?
As predikantskind het ek het grootgeword in verskillende provinsies. Die grootste deel van my skoolopvoeding was in die Vrystaatse dorpie Heilbron. Wat universiteit betref, is ek ʼn trotse PUK, waar ek die ongelooflike geleentheid gehad het om deur ʼn baie aktiewe studentelewe baie van die lewe te leer! Daarna draaie gemaak in Engeland, twee jaar as toergids in Afrika, en toe die Kaap!

Voltooi die sin: Ek weet ek is ‘n Afrikaner want…
Ek is hier gebore en getoë, my familie is van beide ouers se kant in hierdie pragtige land vanaf 1688. Ek is ongelooflik lief vir my taal en kultuur, maar ook hierdie pragtige land van ons met al sy verskillende kulture!

Hoe lyk jou droom Sondagmiddagete?
Skaapboud, rys, aartappels, boontjies met spek en pampoenkoekies! Moenie die gebakte malvapoeding met vla vir nagereg vergeet nie!

Wat is jou gunsteling vakansie-herinnering?
Tydens kindertyd definitief Aprilvakansies – eers Vrystaatse Voortrekkerkamp vir die eerste week op Doornkloof en dan die gesin-seevakansie op Amanzimtoti!

As grootmens verseker ons Desember-seevakansie op Hartenbos!

As jy drie bekendes (lewend of histories) ‘n paar tipiese Suid-Afrikaanse belewenisse kon laat geniet, wie sou dit wees, en wat sou jy met hulle doen?
Jo, ʼn interessante vraag..

Ek sou dalk graag vir Jan van Riebeeck wys hoe die Kaapse handelstasie wat hy in 1652 kom vestig het, vandag lyk!

Ek sou graag ons voorgeslagte wat die Groot Trek en Boereoorlog deurgemaak het, nooi om ons Afrikaanse kunstefeeste te kom bywoon, en sien dat al hul moeite en opoffering nie verniet was nie!

En derdens sou ek graag ʼn saaiboer van die 1800s agter die stuur van een van hierdie groot John Deere trekkers met die kruiptrekkerbande sit! Kan jy die arme omie se gesigsuitdrukking indink?

Watter tegnologiese uitvinding wens jy wil in jou leeftyd gebeur?
ʼn Kar wat homself buite en binne skoonmaak (veral as jy kinders het)!

Watter historiese gebeurtenis het ‘n blywende indruk op jou gemaak?
Definitief die Groot Trek – ons het die voorreg gehad om saam met die FAK op die spore van Piet Retief te trek in 2013. Ek het net weereens besef watter ongelooflike opoffering ons voorouers gemaak het om hierdie land mak te maak vir almal wat vandag hier bly. Daaruit trek ek my motivering om vandag die verskil te maak vir my kinders en hulle kinders vir môre in hierdie land.

Gestel jy kon met Akademia enige blue-sky projek saam met Atterbury Trust aanpak, wat sou dit wees?
Ek sou graag wil voortbou op ons huidige samewerking met Atterbury deur die Akademia Sakeplankompetisie. Die hart van hierdie projek is om entrepreneurs in Afrikaans te bemagtig om volhoubaar besigheid in die moderne Suid Afrika te doen. Nog ʼn droom is die skep van internskappe vir Akademia studente terwyl hul deeltyds studeer!