Waar was jy voordat jy onlangs by Triomf Kliniek begin werk het?
Ek het gewerk by Intercare Parkview Lifestyle sentrum in Moreletapark.

Wat geniet jy die meeste van jou werk by die Kliniek?
Die kliniek maak so ‘n verskil aan die minderbevoorregde gemeenskap. Die pasiënte het nog nie voorheen toegang gehad tot mediese sorg van sulke hoë gehalte nie en hulle is so dankbaar. Dis lekker om in so ‘n opset te werk.

Wie is Adelene as sy by die huis is?
Ek woon in Lynnwood Glen saam met my hond, Thombi, wat altyd om my is as ek tuis is. My groot liefde is die buitelewe, veral om in die Bosveld te gaan kuier. Ek is ‘n kranige stapper en lief vir toer. Ek maak ook graag tuin en geniet naaldwerk, en die heel lekkerste vir my is om saam met my vier kinders (en my twee pragtige kleinkinders!) te gaan ontspan waar hulle ook al gaan jag en wedlope doen.

Waar het jy grootgeword en skoolgegaan?
Ek is ‘n Pretorianer in murg en been… ek het hier grootgeword, gematrikuleer by Hoërskool Menlopark, en my verplegingsopleiding in die destydse HF Verwoerd Hospitaal ondergaan.

Hoe lyk jou ideale Sondagmiddagete?
Kosbare tyd om die tafel saam met my kinders en hul gesinne; ook met my broers en hul gesinne.

Wat is jou gunsteling vakansie-herinnering?
Vakansies in die Oos- en Weskaap saam die kinders.

Noem drie bekendes, wat jy graag sal wil nooi om ‘n bord boerekos saam met jou te geniet?
Patrica de Lill, ek bewonder haar waagmoed en eerlikheid.

Margaret Thatcher: Wat ‘n eer sou dit wees om daardie fenomenale vrou te ontmoet!

Victor Matfield: Hy is my rugby held!

Watter tegnologiese uitvinding wens jy wil in jou leeftyd gebeur?
Ek wens vir die dag dat sonkrag en windkrag oorneem by Eskom!

Watter historiese gebeurtenis het ‘n blywende indruk op jou gemaak?
Ek was ‘n dogtertjie van 10 toe ons ‘n Republiek geword het, en daardie dag, 31 Mei 1961, was ons hele gesin daar by die Voortrekkermonument om die feesviering by te woon. President CR Swart het gepraat, die weermag het verbygemars, dit het ‘n groot indruk gemaak!

Triomfkliniek het al baie bereik in die 6 kort maande wat dit aan die gang is. Wat is jou wens vir die kliniek na nog 6 maande – wat hoop jy sal julle nog bygekry het teen die eerste verjaardag?
Ek wens vir ‘n volledige span dokters om elke pasiënt met sy of haar behoeftes te kan help. En dat daar ‘n tweede Triomf Kliniek sal open in die toekoms.

Atterbury help graag om drome waar te maak. As jy iemand se droom sou kon waar maak, wie sou dit wees en wat sou jy doen?
Ek sou behoeftige leerlinge wat droom daarvan om bo hulle omstandighede uit te styg, wou help bystaan sodat hulle naskoolse opleiding kon kry.