Hy’s die mede-aandeelhouer en bestuurder van Atterbury Teater. Matthys Maree is ook welbekend as pianis en musiekregisseur, en sy splinternuwe CD Tamboerynman – Koos van der Merwe sing Bob Dylan is nou te koop by musiekwinkels landwyd en die Graffitiboekwinkel by Lynnwood Bridge

1. Hoe het jou paaie met Atterbury s’n gekruis?
Dit het gebeur om ‘n braaivleisvuur saam met my swaer, Pieter Faure – een van Atterbury se direkteure. Lynnwood Bridge was in die beplanningsfase en Atterbury Teater het ter sprake gekom. Dit het my uit die aard van die saak geïnteresseer, so toe gesels ek met Louis van der Watt en raak betrokke.

2. Jou ambisieuse projek om Afrikaanse liedjies in Europese tale te vertaal was baie suksesvol. Hoeveel CDs van Afri-Frans, Afri-Spaans en Afri-Italiaans is op die ou end verkoop? Kom daar nog in ander tale?
Altesaam seker bykans 120 000 kopieë. Van die begin af wou ek graag die “trilogie” van Frans, Spaans en Italiaans doen; vir my die drie mooiste Europese tale en nasionaliteite met wie baie Suid Afrikaners noue bande het, hetsy as afstammelinge of as toeriste. Ek voel egter dat dit nou gedoen is en dat mens nie verby die “sell-by date” van so ‘n konsep moet gaan nie. Ek het wel tientalle versoeke vir ander tale gekry die afgelope paar jaar!

3. Toe doen jy eerder Leonard Cohen in Afrikaans. Hoekom juis hy?
Dit is ‘n konsep waarmee Koos van der Merwe na my toe gekom het. Ek en Mathys Roets is al vir jare lief vir Cohen se musiek, en sluit dit gereeld in vertonings in. Maar toe Koos direk van Cohen se uitgewers die regte bekom met sy vertalings/omdigtings was die opgewondenheid groot. Mense vermoed dikwels dat enige vertaalde ding per definisie tweedehands is. Maar soms –net soms – kry iemand soos Koos dit reg om met Cohen en nou meer onlangs met Dylan selfs meer toe te voeg tot die oorspronklike. Dit lewe in Afrikaans en bring in my opinie vanuit ‘n ander oogpunt steeds al die hulde aan die oorspronklike kunstenaars.

4. Vertaling is omtrent in jou bloed, want jy is ook betrokke by ‘n Bybelvertalingsprojek?
Ek is betrokke by ‘n kinderboekuitgewer, Fantasi en deur uitgewerskringe het ek mense ontmoet wat bemoeid is met Bybel-vertaalprojekte. Hier in SA het ons toegang tot menige nasionaliteite en omdat Biblica soveel uitdagings gehad het om vertaalde opnames in Afrika tale te laat opneem, het ons ‘n voet in die deur gekry. Ons het drie klankingenieurs wat werk aan ons buurlande se tale (soos Shona uit Zimbabwe), en ook die res van Afrika. Ons is reeds besig met Luganda (Uganda) en eersdaags Yoruba (Nigerië), Asante Twi (Ghana) en Chichewa (Malawi). Omdat dit klankopnames is, maak dit die Bybel nou ook vir ongeletterdes toegankliker. Ons is ook besig met oorklankings van DVD-reekse van die skrywer en spreker Bruce Wilkinson na Frans en Portugees – ook gemik op ‘n Afrikamark.

5. Wat maak jou vandag trots op Afrikaans/Afrikaners?
Beide as Afrikaner en Afrikaanssprekende sien ek dikwels hoe gunstig mense van ander nasionaliteite ons ontvang. Dis in baie van ons se gene om nuwe geleenthede op te soek, om gasvry te wees en hard te werk; en om as nuwe generasie te soek na inklusiwiteit en volhoubare groei in die geleenthede wat ons aanpak. Dis een van die vele redes hoekom ek trots is om met Atterbury geassosieer te word: die wyse waarop daar gebou word in die maatskappy vanuit ons unieke posisionering hier in Suid Afrika.

6. As jy enige kunstenaar na die Atterbury Teater toe kon nooi vir ‘n groot konsert, wie sou dit wees?
Met Leonard Cohen of Bob Dylan sou ons ‘n epiese aand kon hê! Ek vergelyk hulle met akteurs soos Sean Connery of Anthony Hopkins. Daar is net min nuwe-generasie kunstenaars wat oor ‘n leeftyd sulke skoene sou kon volstaan. Maar ek sou ook graag vir Sting verwelkom vir ‘n aand!

7. Gestel iemand gee jou jy ‘n miljoen of vyf om Afrikaanse kultuur te bevorder, hoe sou jy  dit doen?
As mens dink aan na die goeie ou dae toe die kunste befonds is deur die Staat – soos dit steeds in die Eerste Wêreld gebeur – sou ek graag wou sien dat kunstenaars en ook teaters landwyd hulp ontvang om kultuur toeganklik te maak vir Afrikaanssprekendes. Dis tragies dat soveel alombekende en suksesvolle kunstenaars en akteurs in armoede oud word en dikwels hul laaste lewensjare in obskuriteit deurbring. Dit gebeur oor en oor. Kunstefeeste is van onskatbare waarde, maar meer as dit is nodig om die kunste volhoubaar te maak.

8. Watter tegnologiese uitvinding wens jy wil in jou leeftyd gebeur?
‘n “Fool-proof” stelsel om te keer dat musiek onwettig gekopieër word!

9.  Wat is die grootste uitdaging met die bestuur van ‘n teater?
Vir my is dit om oor die barometer van billikheid te beskik – beide kunstenaars en teaters moet iets uit ‘n vertoning kry, want die een kan nie sonder die ander klaarkom nie. Ons moet heeltyd probeer om ‘n balans te handhaaf wat vir beide partye ‘n voortbestaan verseker. Daar is kunstenaars wat dit nie kan bekostig nie en dan probeer ons geleenthede skep waar hul toegang kan kry tot die verhoog. Maar dan kry jy ook suksesvolle kunstenaars wat hul profyt ten koste van die teater wil maak, en nie bydra tot die bevordering van enige kuns behalwe hul eie nie.
 
10. Wat was tot dusver jou lekkerste aand in Atterbury teater?
Ons is onlangs by ons duisendste vertoning verby. Elke aand waar 400 gelukkige mense hande klap en ‘n gelukkige kunstenaar van die verhoog afloop na ‘n konsert vir ons mense in ons taal in ons stad kwalifiseer as hoogtepunt!

Hierdie video van Lucas Maree se Miljoen, wat in Parys en Johannesburg geskiet is, een van Matthys se gunstelinge. “Ek het lank gesoek na daai 2CV Citroen. Dis nog op my bucket list om deur die suide van Frankryk te reis met een van hulle!”

[gdlr_divider type=”solid” size=”50%” ]

Dylan album coverStaan ‘n kans om die nuwe Koos van der Merwe sing Bob Dylan CD te wen. Ons het 15 om weg te gee!

Stuur ‘n epos aan [email protected] met die naam van jou gunsteling Bob Dylan liedjie. Voorspoed!