Die gewilde GROOTfm 90.5 omroeper is ‘n radioveteraan, ‘n TV persoonlikheid, ‘n musikant en ‘n langafstand-oseaanswemmer – maar kan hy 10 vrae in 10 minute beantwoord? Kyk self…

Wie is Johrné as hy by die huis is?
Ek is baie rustig by die huis. Ek bly tans in Sunnyside in ‘n pragtige ou huis. Ek is getroud met Alet en ons het twee hondekinders. Mnandi is ‘n meisie Deense hond en Stoffel ‘n seuntjie met ten minste 12 verskillende hondjierasse in sy bloed.

Hoe het jy by GROOTfm 90.5 beland?
Ek het my foon geantwoord en toe verander my hele lewe! Ek was baie gelukkig by OFM  in Bloemfontein, maar die uitdaging van wat GROOTfm 90.5 probeer vermag met TV en radio was te groot om nee te sê.

Jy is ‘n Vrystater; en nou bevind jy jou weer in Gauteng. Wat is die lekkerste en minste lekker aspekte daarvan om hier te woon?
Ek het al in Joburg gebly, maar Pretoria het my geweldig verras. Ek is mal daaroor om eetplekke te ontdek, so daar is nog baie om te verken. Ook tweedehandse en antieke meubelwinkels. En markte natuurlik.

Nou is jy ook weer terug op TV met Die GROOT Ontbyt. Wat geniet jy die meeste: radio of TV, en hoekom?
Radio is in my bloed en om die twee te kombineer is geweldig moeilik, maar niks kom by die adrenalien nie. Ek sal dit vir nou vir niks verruil nie!

As jy enigiemand agter die mikrofoon kan kry vir ‘n onderhoud, wie sou dit wees? En wat is die EEN vraag wat jy baie graag vir daardie persoon sou wou vra?
President Zuma. Die vraag: Hoekom, hoekom, hoekom?

Kan jy ‘n staaltjie deel van ‘n snaakse flater wat op stel of in die ateljee gebeur het?
Daar is honderde. Vandag het ek gepraat van “kykenaars” en bloedrooi gebloos…

Het jou musiekgroep ddisselblom planne om nog ‘n album uit te reik? Kry jy nog tyd vir musiekmaak?
As ons ooit weer opneem, sal ons die iTunes roete gaan. Die ander twee trek Desember Kaap toe so daar skei ons paaie weer. Ons sal seker so drie konserte per jaar doen.

Wat is die mees ekstreme ding wat jy al gedoen het?
Ek het tussen Europa en Asië geswem – ‘n afstand van 4.5 kilometer. Ek wil dit volgende jaar weer doen, en dit sal 6,5km wees. Ek sal dit graag wil koppel aan Hanna Charity, of ek gaan swem vir Atterbury Trust!

Atterbury Trust help elke jaar studente wat dit nie kan bekostig nie, om verder te studeer. Gestel jy het ‘n blanko tjek gehad waarmee jy mense se lewens kon verbeter, hoe sou jy dit aanwend?
Verseker onderwys/opvoeding, en kos vir kinders.

Skakel weeksdae tussen 05h30 en 09h00 in op Die GROOT Ontbyt, op Kyknet, DSTV oudio kanaal  920, of luister lewendig by www.grootfm.co.za